Skip to Content

’n Trotse kerk in ’n trotse dorp se tradisie imponeer

Lifestyle Section - History

 
cn_rh_historyFEB18-M Soos laas week belowe, wil ek vandeesweek iets oor die NG Moederkerk van Stellenbosch skryf. Daar is só geweldig baie om oor dié ou en pragtige gebou, die inhoud daarvan, en die gemeente te skryf – ook oor ander gemeentes in die dorp se kleurvolle geskiedenis; alles relevant en vervleg, maar dan sal ’n mens sekerlik ’n boek kan skryf.
Meer oor die moedergemeente kan in elk geval gelees word op die gemeente se webblad, wat netjies en met insig aangebied word. Elke liewe objek in die kerk is besonders en het ’n skynbaar storie; is ’n onderdeel van ’n veel groter, werklik fassinerende verhaal...
Verlede jaar het ek en my vrou ’n nag by Caledon House deurgebring as gaste van Johan en Ode Krige, en ons verkyk aan dié pragtige huis en die besondere kleinnodes wat die Kriges versamel het – hulle kennis en passie vir erfgoed; van die Kriges en van Suid-Afrikaners in die breër opset, is aanprysenswaardig.

Hulle doen ook moeite om hierdie kennis oor te dra, ook aan buitelandse besoekers, soos ware amassadeurs vir Stellenbosch en ons land.
En dit was ook by Caledon House waar ek en Johan verlede week begin het: daar het hy my sy notas oor die kerk, en die besondere glasvensters van die gebou, gewys.
Ook monsters van die glas, verstommende dik stukke – en het hy my vertel van Leo Theron wat dié glasvensters ontwerp en vervaardig, en aan my beeldmateriaal verskaf om die hele proses beter te verstaan. Ek haal vervolgens vryelik aan uit Johan se notas.

In die vroeë 1960’s begin gemeentes in die NG Kerk ook in gekleurde glasvensters belangstel. In 1963 wys die Kerkraad ’n Venster-kommissie aan om die moontlikheid van die inbou van sulke vensters in die kerkgebou te ondersoek.

Teen 1967 word ’n ronde venster hoog bokant die preekstoel as eksperiment geïnstalleer.

Dit is deur die kunstenares Eleanor Esmonde-White ontwerp en teen ’n totale koste van R1 233 geïnstalleer

Streng vereistes sluit in: geen menslike figuur mag daarin voorkom en die Kerkraad dra niks by tot die onkoste nie en daar moes donateurs gevind word.

Mettertyd word Leo Theron, wat in Frankryk die sogenaamde Dalles de Verre tegniek geleer het (die maak van vensters uit gekleurde glas en beton) as kunstenaar betrek.
In 1970 word sy vliegtuigkaartjie betaal sodat hy die kerkgebou kan kom besigtig en voorstelle kan voorberei.

Hy spreek ook die Kerkraad toe en aan die hand van sowat 30 voorbeelde van ander vensters, oorreed hy die vergadering om met die projek voort te gaan.
Leo se eerste pogings was die vier vensters in die aandagswand – links en regs van die preekstoel.
Daar is maande lank geredeneer oor die temas en wanneer daar eenstemmigheid verkry is, was daar nie fondse vir die werk nie. Teen 1973 is die betrokke vensters uiteindelik voltooi.

Toe breek daar ’n bohaai los omdat die ontwerp en kleureffek daarvan volgens sommige bewaringsgesindes met die gees van die Neo-Gotiese gebou sou bots.
Gevolglik het ’n totale stilstand ingetree.

Eers teen 1988 word Leo weer genader om voorstelle vir die volgende fase te maak: die vier Ek Is-vensters in die hoofskip. Danksy donasies van sowat R32 000 word hierdie vier vensters vervaardig en in 1989 geïnstalleer.

Teen 1994 word ’n donasie van R80 000 ontvang en kom die twee groot galery-vensters aan die beurt.

Die gemeente se Bouprojekte-span behartig die dokumentasie vir die ontwerp en vervaardiging van hierdie groot en komplekse vensters.

Hulle behartig ook die toesig oor die installasie. Die boukoste word deur ’n plaaslike konstruksiemaatskappy geborg. Hierna volg die twee klein sy-ingang vensters.
In 2014 word ’n skenking van R450 000 ontvang wat dit moontlik maak om ook die drie ontbrekende vensters te maak en te laat installeer.

Bouprojekte lewer weer eens al die professionele dienste. Leo se oorspronklike ontwerpe word steeds gebruik, maar omdat hy intussen oorlede is, word die vervaardiging deur Fanus Boshoff behartig. Hy het jarelank saam met Leo in sy ateljee gewerk.

In Oktober 2014 – dus 40 jaar nadat die eerste treetjie geneem was – is hierdie spesiale projek voltooi, skryf Johan.
Hy het self heelwat gedoen om die geskiedenis van die kerkgebou en die gemeente visueel uit te beeld, m.b.v. moderne museumtegnieke. Daar is selfs ’n televisieskerm en ’n keuse van tale waarin die geskiedenis oudiovisueel waargeneem kan word.
Ter afsluiting: ek kan in alle eerlikheid sê dat geen kerkgebou in Suid-Afrika my tans so beïndruk as dié van die NG Moederkerk van Stellenbosch nie.nde week se rubriek.

Written by Dr Francois Verster You are reading ’n Trotse kerk in ’n trotse dorp se tradisie imponeer articles

LIFESTYLE MENU

PROPERTY MENU

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Most Recent

Who's Online

We have 103 guests online