Skip to Content

Vreemde siekte wat verstik en verlam

Lifestyle Section - History

 
cn_rh_historyFEB11-MV Terwyl ek op 'n triestige grys dag, met 'n motreëntjie wat kort-kort uitsak op pad na die N.G. Moederkerk Stellenbosch onderweg is, dink ek aan die dae toe ek in dié strate gestap het, ook so jonk en kommervry soos vandag se studente, of só verbeel ek my. Hoekom dink ons aan die verlede as "die goeie ou dae?" Was dit altyd so goed?
Was daardie dae óóit beter as nou? Een ding is seker: ons het die wêreld anders beskou. En die wêreld was anders – tydgees, noem  ulle dit – die kumulatiewe effek van ons ervarings en dié van ons ouers en hulle ouers s'n, wat aan hulle oorgedra is, en die herinterpretasie van al daardie ervarings, deur mense uit talle kultuur-oriëntasies en geografiese plasings. Soms, dink ek, is dit goed om iemand se mening te hoor oor hierdie ding, nostalgie, iemand met 'n ander kulturele onderbou, onderhewig aan ander taboes en vooroordele.

So iemand is Svetlana Boym, professor in Slawiese en Vergelykende Literatuur by Harvard. Sy het die fassinerende boek The future of nostalgia (Basic Books, 2001) geskryf. In die boek verduidelik sy o.a. waar die konsep "nostalgie" vandaan kom. En so, tot my verbasing kom hierdie begripsomskrywing van 'n mediese dokter, ene Johannes Hofer, 'n Switser, uit die jaar 1688. (Dus te laat vir Jan van Riebeeck – hy het dáái gevoel gehad, maar kon dit nie 'n naam gee nie! Hy het immers al in in 1677 in Jakarta, ver van sy geboortedorp Culemborg, onder die kluite gelê). Nietemin, Dr. Hofer het drie terme vir dié affliksie voorgestel: nostalgia, nosomania en philopatridomania, en soos Prof.

Boym ewe droog opmerk, het eersgenoemde gelukkig die doop oorleef. "Nostalgie" klink wel Grieks, maar dis toe níé. Dr. Hofer het dit as 'n siekte gediagnoseer na aanleiding van die verlange wat mense in die 1600s ervaar het, insluitende, ironies genoeg, Switserse huursoldate wat oraloor gaan veg het. Volgens Dr. Hofer was die simptome van hierdie siekte "verkeerdelike voorstellings" wat die pasiënte laat hallusineer het, en die verlange na hulle geboortelande het 'n verterende obsessie geword. Hulle het "lewelose en vermaerde gesigte" gehad en was lusteloos, deurmekaar, en het selfs stemme gehoor en spoke gesien. Nadat Dr. Hofer hierdie siekte geïdentifiseer het, het die fenomeen 'n epidemie geword. Daarna, sê Prof. Boym, het dinge erger geword – 'n selfs erger epidemie het losgebars, naamlik "vals  nostalgie."

Soos 'n mens kan verwag, het oldate wat moeg was van oorlog gou op die wa gespring om van hulle verpligtinge los te kom. Uiteraard sou die truuk nie lank werk nie, want geen weermag sou kon voortbestaan indien
bang of weerbarstige soldate in groot getalle "ongeskik" raak nie. 'n Franse dokter, Jourdan le Cointe, het daarop gewys dat drastiese skokbehandeling die antwoord sou wees. Hy het die voorbeeld van die Russiese weermag gebruik – terwyl die Russe in 1733 in Duitsland geveg het, het baie soldate skielik begin "nostalgies siek" word.

Die teenvoeter hiervoor was dat  'n regulasie uitgevaardig is waarvolgens die volgende soldaat wat siek  word, lewend begrawe sou word. Die dreigement is 'n paar maal uitgevoer voordat die nuwe epidemie estuit is. Hierdie inligting in Prof. Boym se boek het my herinner aan my eie dienspligtyd (1986-1987). Daar was 'n storie dat 'n sekere troep "mal geraak" het. Hy het glo heeltyd geloop en soek na iets. Toe die korporaal uiteindelik vra wat dit is wat hy soek, het hy geantwoord: "Daai papiertjie." So het dit aangegaan, totdat hy by 'n sielkundige beland het. Die gawe dokter het hom toe as versteurd gediagnoseer en

huistoe gestuur. Toe hy by die kamp se hek kom, lag die wagte vir hom en vra of hy daai papiertjie al gevind het. Hy wys hulle daarop sy  ontslagpapiere en glimlag breed. Ongelukkig is nostalgie egter iets baie meer kompleks as 'n verlange  na die huis of familie, of om sielkundiges te flous. In die post- 1994 Suid-Afrika het nostalgie weer  posgevat soos lank laas tevore, en nou twintig jaar later skyn dit pandemiese afmetings aan te neem. In Van Riebeeck se tyd het VOCamptenare na dyke, gragte, windmeuelens en tulpe verlang,

wat verstaanbaar is. Maar nou is dinge anders – die "siekes" kan nie teruggaan nie, want daar is nêrens om terug te gaan nie. Hulle wil ook nie (almal) na Europa gaan nie, maar wil eerder teruggaan in tyd. Nostalgie laat hulle stik in hulle woede, veral op sosiale netwerke, die vlamme van haat wat sodoende aangeblaas word verlam ons vooruitgang. Helaas, dít terwyl ons veronderstel is om een nasie, verenig ten spyte van verskille, te wees; dit was die droom van die man wat as juis die vader van dié nasie bestempel was.
Dit alles is in my agterkop toe ek en Johan Krige, kurator van die Moederkerk se Historiese Bediening instap en opkyk na die pragtige vensters... maar, meer lig op dié onderwerp in volgende week se rubriek. was. Dit alles is in my agterkop toe ek en Johan Krige, kurator van die Moederkerk se Historiese Bediening instap en opkyk na die pragtige vensters... maar, meer lig op dié onderwerp in volgende week se rubriek.

Written by Dr Francois Verster You are reading Vreemde siekte wat verstik en verlam articles

LIFESTYLE MENU

PROPERTY MENU

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Most Recent

Who's Online

We have 92 guests online