Skip to Content

Sal die ware Jan opstaan?

Lifestyle Section - History

  Dit bly interessant dat sekere figure uit die verlede periodiek opgediep word om as politieke ammunisie te dien. Soos die beskuldigings en beledigings wat tans rondvlieg oor Jan van Riebeeck (1619-1677). Aangesien hy die eerste ikoon van ons geboekstaafde geskiedenis is – wie anders wat saam op die Reijger, die Tijger en die Titanic hier aangedobber het – nee wag, nou dra ek by tot die verwarring.
Wyk Tolla se spook, waar’s ’n sjamaan as jy een nodig het – wie anders uit die grys Nederland wat op 6 April 1652 hier aangeland het, is so bekend as jy, Ou Jan? Ek onthou die legendes van my skooltyd, soos die een dat Jan ’n ogie had op die Khoi-dames en dan hulle mans ingespan het om kanonne rond te trek. Dan, as daar so tien aan ’n tou voor die kanon beur, het die ou helsem die kanon afgevuur. Asof dié anderster trekkers nie lont sou geruik het nie...
Nee, snert. Maar dan sal iemand dalk sê “Gmf, waar ’n rokie is, is ’n vuurtjie,” maar soos Van Hunks se verhaal bewys, is dié idioom geen bewys van waarheid nie. Noudat Van Riebeeck weer ’n “Zoeloe op sy stoep” het, is dit tyd om weer te kyk wie hy regtig was. Was hy byvoorbeeld ’n volksplanter? Dis immers wat so lank vertel is. Asof hy  een oggend besluit het om Maria op te kommandeur (sic) om saam te seil na die Kaap van Storms, vol hoop 'n maatemmer op te lig sodat Afrika se lig uiteindelik mag skyn. Het hy vir Vrouw van Riebeeck gefluister dat hulle daar ’n nuwe nasie gaan bou? En het sy koketterig  gegiggel, haar hoepelrok soos ’n hoelahoep gedraai en met die bronstige Janneman agterna, op ’n skip gehuppel?
Of het Jan in opdrag van sy base, die berugte Here Sewentien, die gevaarlike tog aangepak om in ’n onbekende, toe selfs meer onherbergsame plek as hulle gedink het, te gaan tuine uitskrop, leivore grou, geboue opslaan (o.a. ’n hospitaal en fort), met die opdrag om in vrede met die heidene” te leef, want ai, oorlog is duur en dis nie in die begroting nie.
“Bou ’n uitspanplek vir die retoerskepe wat ons ryk maak, Jannie,” het hulle beveel. Daar moes skepe soos resieskarre in die kuipe gaan luier, en die bemanning ook – sodat die verliese (dosyne skepe het  gesink, duisende matrose het van siektes beswyk) laag gehou kon word. In elk geval, die meeste van ons wat handboeke op skool ontvang het, reken ons weet wat verder gebeur het, oordrywing en vurige patriotisme wat daar was, ten spyt – in die argiewe is genoeg betroubare bronne. Nee, Van Riebeeck was geen volksplanter nie.
Sy seun Abraham is wel hier gebore, maar een swaeltjie maak g’n somer nie. So sou hulle ook geen meerderheid in ’n demokratiese land (wat hulle sekerlik nooit ooit kon voor-Sal die ware Jan opstaan? sien!) verwerf nie. Inteendeel, Jan en Maria het soveel probleme van Herrie (Autshumato) en die suidooster gekry dat die dekade wat hulle hier was soos ’n leeftyd gevoel het. Hulle was só bly om in 1662 anker te lig na Batavia. Nooit het hulle teruggekyk of teruggekeer nie, so as volksplanter sou hy ’n aaklige mislukking wees.
Onlangs is gesê dat Suid-Afrika se probleme begin het met Van Riebeeck se aankoms, en ’n groter storm as ’n tierende suidoos het losgebars. Dit klink egter nie asof Van Riebeeck persoonlik verantwoordelik gehou word vir genoemde probleme nie, maar baie mense het dit so geïnterpreteer.
Ekself ook, totdat ek weer gaan kyk het. Nou voel ek dat “Van Riebeeck” eerder as Westerse invloed” gelees moet word. Of dít noodwendig as problematies beskou kan word, hang af van uit watter hoek jy kyk.
Ons kan aanvaar dat Afrika eventueel deur een of ander seevarende volk betree sou word. Of soos deesdae, per vliegtuig, en nou is ouderwetse kolonisasie onnodig. Ekonomiese imperialisme is minstens net so onstuitbaar.
Hiermee is China deesdae die wegwyser in Suider Afrika:
Sonder slag of stoot vloei hulle hierheen en sit winkels op, soos die Hollanders ook begin boer het as Vryburgers. Inheemse voorsate is kwalik geneem dat hulle grond afgestaan het vir ’n paar glaskrale en ’n paar kiste drank, of dalk ’n troon en ’n kis vol gewere, maar die gevolge is dieselfde; vreemdelinge stroom deur ons poorte – ook uit die noorde, soos lank vóór Van Riebeeck. Toe was daar net nie grense nie, geen kaarte nie, geen “moderne” infrastruktuur nie.
Daar’s al baie gegis oor Onze Eerste Jan. Ons weet egter nie vir seker hoe hy gelyk het nie – daar is minstens vier afbeeldings wat al as hy voorgehou is, waarvan die een wat op die ou geldmunte en -note verskyn het, lank as dié een beskou is. Ons weet egter hy was geen volksvader nie.

Written by Dr Francois Verster You are reading Sal die ware Jan opstaan? articles

LIFESTYLE MENU

PROPERTY MENU

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Most Recent

Who's Online

We have 101 guests online