Skip to Content

Verwarrende dinge oor die Hugenote

Lifestyle Section - History

  cn_rh_historyDEC17-mSoos laas week genoem, kom ek toe af op hierdie boekie oor die Hugenote. Behalwe die een deur CL Leipoldt (1939) wat ek uitgeleen het en nou is dit vermis – hoeveel keer het so iets nie al gebeur nie –  staan daar nog drie oor dié amper legendariese groep mense op my rak: The Hugenot Heritage deur L. Bryer en F. Theron (1987), Die Hugenote van Suid-Afrika (1988) en M.L. Sienaert-van Reenen se Die Franse bydrae tot Africana-literatuur (1989).

Dít dan was die chronologie van die plaaslike boeke oor die Hugenote na my wete.

Tot ek D’Arbez se Kort geskiedenis van die Hugenote gesien het. Dis in 1927 gepubliseer, dus ’n dekade vóór Leipoldt se boek (En dan is daar natuurlik ook Op die galeie, vertaal uit Nederlands deur Fanie van Rooyen, waarvan in hierdie rubriek melding gemaak is – meer hieroor kan van die Hugenote Vereniging by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it verneem word).

Maar, oor D’Arbez s’n: die boekie is gedruk en uitgegee deur J.H. De Bussy in Pretoria en deur die Hollands-Afrikaanse Uitgewers-maatskappy van J. Dusseau in Kaapstad en is uit die Frans vertaal deur T.J. Kruger. Dit is 98 bladsye lank en bevat ’n lys van name van die oorspronklike Hugenote – meer bekend as Emigrés onder die hedendaagse Franse, maar dit blyk dat hulle alle uitgewekenes van daardie periode as Emigrés beskou en dat hulle min weet of belangstel in die groep wat na die verre suidpunt van Afrika – meestal via Nederland – gegaan het.

Min akademiese studies is ook oor “ons Franse” in Frankryk gedoen. Wie D’Arbez was weet ek nie en of hy die inleiding geskyf het en of Kruger dit bygewerk het nie, maar dit begin so: “Daar is min dinge waarop die reggeaarde Afrikaner so trots is as op die feit dat hy direk afstam van die Hugenote of Protestantse Franse  vlugtelinge wat in die jaar 1688 in Suid-Afrika aangekom het.”

Ek vermoed dis Kruger se woorde, aangesien D’Arbez dan Frans was. Ek, wat self Hugenote bloed het, vind dit nogtans interessant dat Afrikaners soveel aanklank vind by Franse, terwyl die Franse vandag nie eens bewus is van hierdie verbintenis nie. Is dit ’n romantiese idee wat ons het oor die (verbeelde) swier van mense wat lank gelde geleef het of dink ons dat die Franse beter is as sê maar die Duitsers of Hollanders? Of het ons die “mooiste taal” Frans,  en die stad van liefde, Parys, in gedagte? Ek self dra graag my beret (al is dit maroenkleurig, nie rooi, wit of blou nie) en voel hoe ek skielik meer flair het as tevore, al kon ek ná etlike lesse in Frans skaars meer sê as “My naam is Francois.”

En dis met hierdie konflikterende emosies wat ek oor die mense lees wat deur die Hollanders van die V.O.C. gedwing is om te verhollands – goewerneur Simon van der Stel, wat teen die Franse geveg het in Europa voordat hy na die Kaap  gekom het – was nie gemaklik met die “vyand” in sy kolonie nie. Hy was maar te bly om hulle so gou as moontlik te laat assimileer, anders as in bv. Amerika, waar Duiters en Franse destyds aangemoedig was om hul eie identiteite te behou. Dog, hulle het óók Amerikaners geword. ’n Mens wonder dus waarom ons as Suid-Afrikaners eerder nou vasklou aan ons kulturele identiteite en nie soos in Madiba se tyd nader  aan mekaar beweeg om ook ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit te skep nie. Voorheen is ons verhoed, maar nou wil ons nie.

D’Arbez vertel van wat in Europa gebeur het; die tragedie van religieuse arrogansie en onbuigsaamheid, die oorloë en die verraad, die omswerwinge en ontheemding... en uiteindelik is daar tog ’n goeie einde. Die meeste vlugtelinge het gebly waar hulle nuwe wortels gaan skiet het, al is later aan hulle kwytskelding belowe om terug te kom na “La Bonne France”. Persoonlik hou ek die meeste van D’Arbez se mening oor “die pragtige swartogige en gitswartharige nooiens, wat die blom van ons vroue vorm...” hy reken dis die Franse bloed, veral uit Provençe.

Ek het altyd gedink die Franse nooiens van dié suidelike Franse provinsie lyk almal soos die blonde Meisie van Avignon – Marthe Keller was beslis ’n skattebol. Ja, die Franse laat ons tog so romanties voel. Ek wonder egter of die Hugenote so gedink het – sien die illustrasie.

Written by Francois Verster You are reading Verwarrende dinge oor die Hugenote articles

LIFESTYLE MENU

PROPERTY MENU

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Most Recent

Who's Online

We have 98 guests online