Skip to Content

Die kamergesprek as alternatief

Lifestyle Section - History

  cn_rh_historyDEC3-MEk wil vandag my kulturele agterlikheid bely. Ek sal nie sommer by ’n kamermusiek-uitvoering gesien word nie. Of by ’n opera nie. Ja, ek was al by die Baxter en Kunstekaap, maar nie vir opera nie. Shakespeare het ek al gaan beleef, en ’n blyspel of twee, maar opera? Nee, jinne, veral nie ná wat met Abraham Lincoln gebeur het nie. Dis my verskoning en ek hou daarby.

Ewenwel, toe ek op Saterdag 22 November by die Huis der Nederlande (nou SASNEV) in Pinelands aankom om die laaste vergadering van die Stigting VOC by te woon, en die genooide spreker daag nie op nie,  moes ons kreatief raak – omtrent soos toe Cliff Richard op Wimbledon gesing het toe dit aanhou reën. So iets. Nou moet ek sê, toe ek voorsitter van die S.A. Vereniging vir Kultuurgeskiedenis was, het ek voorgestel dat ons byeenkomste hou om algemene kwelpunte rakende erfenisdinge te bespreek, ook moontlike samewerking tussen verenigings (geskiedenis, kultuur, kuns, dié soort van ding), maar algaande het dit moeiliker geraak om eens ’n kworum byeen te kry.

Hieroor word wel gepraat by verenigings, en so het prof. Kay de Villiers juis ook hier gesê dat by die verenigings waarvan hy lid is, is die gemiddelde ouderdom van lede meer as 60. Die logiese afleiding is dat daar binne tien jaar min van hierdie verenigings sal voort-bestaan.

Een probleem is dat ’n mens by vergaderings altyd ’n klompie bekende gesigte opmerk – mense wat jy by ander verenigings ook sien, en dan gebeur dit dat daar soms twee of drie geleenthede plaasvind op dieselfde dag – soos onlangs toe die bekende argivaris Jaco van der Merwe by die einste SASNEV ’n praatjie gelewer het, terwyl die historikus Dr. Hans Fransen by die Poshuis in Muizenberg opgetree het, en daar ’n boekbespreking in Stellenbosch by Protea Boekwinkel... ek moes kies en so moes baie ander mense ook. Hierdie kwessie is ook sommer uitgepraat by SASNEV en gemoedere is gekalmeer, want ’n spreker voel immers in die gesig gevat wanneer enkele toehoorders opdaag – soos ek wat by SASNEV oor die invloed van politieke spotprenttekenaars kom praat het en toe daag vyf mense op: ek, die voorsitter van die betrokke vereniging, en twee bona fide belangstellendes!

Op daardie dag was daar ’n wêreldbeker-wedstryd (krieket) aan die gang en ook die Woordfees op Stellenbosch, en dieselfde lesing is toe op die volgende Saterdag aangebied, waartydens die lokaal stampvol was. Die onderwerp, die spreker en die lokaal was onveranderd, maar die mededinging was  minder. Tydsberekening is dus belangrik en beplanning moet versigtig gedoen word – die aantal belangstellendes is beperk en kompetisie vir hulle aandag neem toe. En dit moet aanvaar word: nie almal waardeer klassieke musiek (na verdienste) nie en nie almal stel belang in ons bedreigde kultuur-erfenis soos geboue, skilderye en argiewe nie. Helaas. Miskien gaan TV darem eersdaags uitgeskakel word danksy Eskom...

Nietemin, daar sit ons, maar die spreker bly weg. Hy sou kom praat oor die werk van die provinsie se Geografiese Namekomitee. As voormalige lid van daardie komitee het ek ’n paar opmerkings gewaag en Dr Dan Sleigh, wat saam met my lid was van Kaapstad se straatnamekomitee (die 2008-model) het ’n paar insidente onthou wat ons as relevant beskou het, soos die vermindering van sekere name – Lord Alfred Milner se naam verskyn meer as tien maal in die Skiereiland, terwyl daar te min van ons eie kunstnaars se name gesien word. Uys Krige se naam, hoor ek, is darem nou iewers aangebring – dit was juis destyds ’n voorstel van Dr. Sleigh.

Ons het later lekker gesels oor boeke, soos Dr. Sleigh se Buiteposte (1993), Eilande (2002) en Wals met Matilda (2011), oor mites in die geskiedenis (hy het onlangs ’n lesing daaroor gegee op ’n plaas naby die Bottelarypad), oor nuwe boeke soos Die oorlog kom huistoe (saamgestel deur proff. Albert Grundlingh en Bill Nasson van Stellenbosch), wat laas week nog die nuwe kykNET-Rapport Boek-prys gewen het – prof. Kay de Villiers het genoem dat Emily Hobhouse se toespraak wat by die onthulling van die Vrouemonument (16 Desember 1913) voorgelees is, daarin vervat is. “Lees dit, al is dit al wat jy in daardie boek lees,” sê hy.

’n Paar koppe knik: nog ’n paar boeke sal gekoop word; laat die volk lees... ons praat van voorgeskrewe boeke en moeite wat gedoen word om historiese romans geloofwaardig te maak (die historiese deel – die roman-deel van die konsep het ander uitdagings). Hiervan het ek ’n bietjie ervaring – ses kundiges het meegewerk tydens die redigeringsfase van my roman Een teen Adamastor (Maskew Miller Longman, 2013), wat bedoel is om as voorgeskrewe boek aangebied te word. Maar met die huidige onsekerhede in die onderwys, is ek bevrees dat al die tyd, energie en geld wat daarin belê is dalk verniet was. En dis maar een voorbeeld. Uitgewerye, en die leerders, gaan heelwat verloor weens die landswye stolling in die literêre bloedsomloop. Niemand is nog dood nie, maar dis reeds tragies.

’n Uur het verbygegaan en talle interessante en uiters relevante temas is bespreek. Later sorteer ons nog ’n paar wêreldkrissie uit by die hek voor die gebou en gaan kort voor middagtee uiteen, verryk en bemoedig deur die interaksie, so op ’n windverwaaide Kaapse Saterdagvoormiddag. Kamergesprekke, soos prof. Leon Hattingh dit noem, kry my stem.

Nou moet ek nog aan kamermusiek begin werk.

Written by Francois Verster You are reading Die kamergesprek as alternatief articles

LIFESTYLE MENU

PROPERTY MENU

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Most Recent

Who's Online

We have 94 guests online