Skip to Content

Die nut en die niche: die rol van amateur-historici

Lifestyle Section - History

  cn_rh_historyNOV19-MVDie webwerf LinkedIn bestuur verskeie gespesialiseerde platforms, soos vir skrywers, historici, joernaliste, redakteurs en argivarisse.Een van hierdie platforms, The History Enthuasiast Group, het onlangs ’n (kuber) gesprek aangebied aangaande die rol van amateur-historici. Een van die deelnemers aan die gesprek, was ’n dame genaamd Sue.

Sy’t beweer sommige amateur-navorsers (plaaslik is baie van diesulkes genealoë, maar sy praat van mense wat streeksgeskiedenisse skryf) beter werk as akademici oor dieselfde temas doen.

Sue skryf dat sy Facebook as bron gebruik en dat dit akademici laat gril as hulle daarvan hoor – almal weet tog die Internet is nie ’n betroubare bron nie. Inderdaad nie, nie as jy dit as enigste bron gebruik nie. Jy kan allerlei bronne gebruik, maar jy moet weet dat almal nie ewe betroubaar is nie.

Mondelinge bronne is gewoonlik minder betroubaar as skriftelike bronne, want laasgenoemde word meestal gekontroleer: die navorser moet ’n voetnota en ’n bronnelys verskaf, en lesers kan dit gaan lees om te sien of die navorser spek skiet of foute maak.

Die standaarde van akademiese joernale is gewoonlik baie hoog, want benewens die professionele trots van die skrywers is die status en befondsing van akademiese blaaie dikwels afhanklik van korrekte en grensverskuiwende navorsingsarti-kels. Akademiese standaarde is immers noodsaaklik, anders sal ons akademiese instansies bloot mite-fabrieke word.

Romanskrywers kan nog spot en praat van hulle studeerkamers as liegfabrieke, maar dis bona fide navorsers nie geoorloof om met die waarheid te flankeer nie. Soos in die geval van joernaliste het hulle ’n professionele plig teenoor die publiek en anders as joernaliste het historici meer tyd en bronne tot hulle beskikking as joernaliste wat een spertyd ná die ander moet haal.

Soos iemand gesê het: “Journalism is history in a hurry.” ’n Mens verwag dus dat ’n geskiedkundige sy/haar deeglik van sy/haar feite vergewis en dat hierdie mense die opleiding ontvang het om so na as moontlik aan die waarheid te kom.

Ja, almal is menslik en kan fouteer, maar dis hoekom daar ander histrorici is wat as kontrole-sisteem optree. En glo my, hulle is ernstig daaroor – ek het al gehoor hoe hulle mekaar aanval oor klein mistastings en dubbelsinnighede.

Dit is juis hierdie “kruisverhore” waaraan opgeleide historici blootgestel word wat sorg dat foute beperk word, asook toegang tot bronne (bv. om oorsee te kan gaan, om bewus te wees van ander akademiese navorsing oor dieselfde onderwerp, ens.) wat dalk nie die geval is met amateur-navorsers nie.

Sue se stelling dat amateurs beter werk as professionele mense doen, is dus effe vergesog – nie dat daar nie individuele gevalle mag wees nie, maar sy maak tog ’n debatteerbare veralgemening.

’n Mens kom soms op ’n boek af wat ’n amateur geskryf het wat nie net die enigste navorsing oor ’n sekere tema bevat nie, maar ook deeglik en netjies saamgestel is.

Ek dink hier aan Karel Schoeman se talle boeke oor spesifieke omgewings – soos sy boek Die wêreld van die digter, ’n boek oor Sutherland en die Roggeveld ter ere van N.P. van Wyk Louw (Human & Rousseau, 1986). Nou, Schoeman was ’n bibliotekaris, nie ’n historikus nie, maar hy het soveel nuttige bydraes gemaak aangaande die Suid-Afrikaanse geskiedenis-ouvre dat navorsers nog vir baie jare daaruit kan put.

Daarteenoor kry ’n mens ‘n boek soos Kronieke uit die Koue, ware vertellings uit Sutherland, deur Gerrit “Palmietfontein” van Wyk, wat jou tipiese streeksgeskiedenis is – ’n mengsel van genealogie (soos gewoonlik toegelig met familiefoto’s), omgewingsbeskrywings en staaltjies.

Vir die familie van die skrywer en mense wat die omgewing ken, is dit sekerlik genotlik om te lees, en ’n sekere tydsgees word bekendgestel – snaakse byname, buiten-gewone karakters, die klimaatstoestande, tipieseboerderybedrywig- hede –  en waarom nie?

Hierdeur word ’n gaping gevul wat dalk nooit deur akademici aangespreek sou word nie – veral nie noudat Kultuurgeskiedenis as vak ook nou “geskiedenis” is nie; omdat daar nie meer spanne studente onder leiding van kenners soos proff. Pieter Grobbelaar, Bun Booyens en Matilda Burden deur die platteland reis en optekenings van hierdie temas maak nie.

Nietemin, Sue kan maar ontspan, daar sal altyd ruimte wees vir “entoesiaste” en baie van hulle sal heerlike boeke publiseer. Dink maar oor watter uitstaande navorsing in hierdie rubriek geskryf is, soos gedoen deur Ebrahim Rhoda (Strand), Johan en Ode Krige (Stellenbosch) en Thys de Villiers (Overberg), om ’n paar te noem.

Dis ook sulke mense wat geskiedenis as vak laat voortbe-staan, want dis hulle wat deur hulle entoesiasme sorg dat ander mense begin belangstel en dat skoliere geskiedenis as vak neem, hulle eie navorsingstake (insluitend genealogie) doen en die historici van die toekoms word – amateurs en professionele geskiedenisnavorsers.

Kronieke uit die koue is verkrybaar by die skrywer by 023 571 2709 of   This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Written by Francois Verster You are reading Die nut en die niche: die rol van amateur-historici articles

LIFESTYLE MENU

PROPERTY MENU

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Most Recent

Who's Online

We have 91 guests online