Skip to Content

Knikkertjie gedenk aan my sing ’n gees van die ou Karoo

Lifestyle Section - History

  cn_rh_historyNOV12-1-MOp pad na die Tankwa-Karoo besluit ek en my reisgenoot om eers ’n draai by Boplaas te maak. Dit was Vrydag 31 Oktober en die volgende dag is dit Karretjiefees by die Tankwa Padstal. My maat, Dana Snyman, wil Boerneef se graf besoek alvorens ons na Sutherland – die eindpunt van ons reis – ry om daar te oornag. Saterdagoggend sou ons terugkeer om die donkiekarre te gaan afneem en oor ons indrukke daarvan te skryf – hy vir ’n familietydskrif en ek vir Litnet.

Dis ’n wye Bolandse draai, want ons het op Wellington ontmoet – hy van die Weskus af en ek van die Noordelike Voorstede. En dan, as ons sake afgehandel is, sou ons terugkeer na Wellington, waar ek my motor gelaat het.

Dié Vrydagmôre is ’n sonnige, ooplug oggend en daar is min verkeer toe ons deur Ceres ry. Skielik val dit my by dat ek nou net mooi tien jaar gelede laas hier was, toe die Suid-Afrikaanse Kultuurgeskiedenisvereniging sy jaarlikse konferensie hier gehou het.

Die gebruik van die vereniging is om plaaslike mense te nooi om iets te vertel van hulle omgewing. Daardie keer was dit ’n boer van Boplaas – Carl “Boplaas” van der Merwe. Hy was gretig om sy gedigte voor te lees, want hy was sy lewe lank onder die indruk van sy oom, sy pa se broer Boerneef, se roem.

Boerneef, oftewel prof. Izak Wilhelmus van der Merwe (1897-1967), was inderdaad oom Carl, toe al 72, se held.

Soos sy veelgeroemde oom wou Oom Carl ook sy slag met die pen wys en sy behoefte aan erkenning was aandoenlik – tydens die middagete het hy oorkant my gesit en my kort-kort gevra: “Nou Doktor, wat dink jy van my gedigte?”

cn_rh_historyNOV12-2-MVHoe meer ek sê ek is geen kenner van die poësie nie, hoe meer hou hy aan. Sy geslag het mos ’n hemelhoë dunk van “geleerdheid; “die gevolg van die armoede en gebrek aan geleenthede van sy jeugjare. Boerneef moes inderdaad ’n amper-god gewees het. Toe ek sê ek wil graag sy boek Bewaar die knikkertjie koop, spring een van die dames wat by ons aan tafel was op en gaan koop so wragtie die laaste een. 

Vir Oom Carl was dit ’n verleentheid: die “geleerde man” wil een van sy boeke hê en daar is niks oor nie... krisis! Hy belowe my net daar hy sal sy eie eksemplaar na my pos, wat hy ook gedoen het. Binne-in die boek, wat ’n skatkis van inligting oor sy jeugjare was, het hy geskryf: “Groete en dankie! R80. Dit was lekker om julle te ontmoet. Bus 3. Koubokveld, 6836. Dis die heel laaste een.” Langs “Koubokveld” het iemand in ’n netjiese skriffie met poltlood geskryf: “Koue Bokkeveld.”

Toe ek later die Inleiding lees, sien ek dat hy daar noem dat die oumense nie van “Koue Bokkeveld” gepraat het nie, maar indedaad van “Koubokveld.”By die boek was ’n briefie, geaddresseer aan “Dr. Francois-goet.”

Bo, langs die seël, staan geskryf: “Issie Rooitaal al mooi taal?”, want daar is geen Afrikaans op die seël nie: nóg ’n kenmerk van die oom se generasie – die taalvaardigheid gebore uit taalstydigheid. Agterop die koevert staan “Groete en dankie,” wat onderstreep is. In die briefie, net een bladsy lank, noem hy dat sy boeke “wonderlik verkoop, met die Here se genade.”

Hieraan dink ek so tussen die geselsery deur en weldra is ons oor die pas en Op die Berg. Eers neem ons foto’s van die ringmuur waarop die afgestorwe Van der Merwes se name op plaatjies verskyn. Die laaste een is Carl Boplaas s’n.

Daarna dwing Dana die motor deur die lang grasse – die pad se middelmannetjie is omtrent so hoog soos ’n middelslag donkie – en uiteindelik kry ons die kerkhoffie.

Met die imposante tafelberg waaroor Boerneef geskryf het in die agtergrond, neem ons foto’s, terwyl ek wonder of daar bergganse in die omgewing is.

Donsvere sien ons egter nie, maar wel ’n ystervarkpen wat dwarsdeur my Croc steek.

’n Klein prys om te betaal, voel ek toe ons die pad Sutherland toe vat.Twee dae later en terug by die huis, haal ek die sepiakleurige boekie (205 bladsye lank) van die rak af en kyk na die brief en twee koerantknipsels, sy doodsberig onder “Sterfgevalle”en die kort artikel oor Oom Carl se tragiese dood.

Van hoe hy hom op 29 September 2004 in die Skurweberg doodgeval het, op pad na ’n staalkruis wat hy “ter ere van die Here” daar opgerig het. Die koerantpapier is al gelerig soos die boek se buiteblad, maar ek glo Oom Carl Boplaas sal nie vervaag nie. Ons het sy nalatenskap op papier – soos hy voor in geskryf het: “Vir my kleinkinders en ander vrinne.”

Written by Francois Verster You are reading Knikkertjie gedenk aan my sing ’n gees van die ou Karoo articles

LIFESTYLE MENU

PROPERTY MENU

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Most Recent

Who's Online

We have 98 guests online