Skip to Content

Gekleur en geveer op Franschhoek

Lifestyle Section - History

  cn_rh_historyNov5-MDie Jaarlikse Ledevergadering van die Hugenote Vereniging is op Saterdag 25 Oktober in die Kerksaal van die NG Gemeente Franschhoek, Hugenote-weg, Franschhoek gehou. Professor Bertand van Ruymbeke,  van die Universiteit van Parys: St Denis, was die gasspreker – met ’n voordrag getiteld: A Comparison between the Refuge of the Huguenots to South Africa and the Migration to the American Colonies.

Dit alles klink baie formeel en akademies, maar die verrigtinge was glad nie styf en droog nie – die saal was, soos Dr. Andrew Kok gesê het: “Feestlik getooi in blou, wit en rooi.” Ekself het vooraf my maroen beret gesoek (jare gelede in Brussels gekoop), maar opgegee en besluit om ’n bloue in Franschhoek te koop.

Blou, want die kleurswakkes en humorloses onder my volksgenote verwar mos maroen met rooi – en vra my dan van wanneer af stem ek vir die EFF? Groot was my teleurstelling toe dat daar geen beret van enige kleur in die dorp te kry was nie...

Nietemin, daar was genoeg aanwesiges, soos Dr. en Mev. Christo Viljoen, om soos ware Franse te lyk, en gou was almal meegevoer in die gees van die Marsellaise en die Driekleur (die eerste volkslied en vlag sover bekend in die wêreldgeskiedenis).

My ouma van vaderskant was self van Hugenote-afkoms (Mouton), en ek kon sweer ek het iets voel roer in my bloed. Ná die aankondigings en bekendstellings was die gasspreker aan die woord.

Soos gewoonlik was dit vir my ironies dat ons, Afrikaanssprekendes en hy, ’n Fransman, via ’n derde taal, Engels, moes kommunikeer – iets wat amper al ’n tradisie geword het in Suid-Afrika.

Maar dis sekerlik ’n voordeel om sodoende aan ander idees blootgestel te word, en in hierdie geval selfs meer oor jou eie herkoms te leer, al is dit met ’n ompad.

Prof. Van Ruymbeke (self ’n verfransde Nederlander) het ’n goedvoor-bereide, weldeurdagte lesing gelewer, gebaseer op sy navorsing oor hoofsaaklik die migrasie van Hugenote na Suid-Carolina in die V.S.A.

Hy het verduidelik dat Franse akademici eintlik die migrasie van Hugenote ignoreer, sodat die meeste navorsers van die Hugenote diaspora tans nie-Franse is.

Die rede vir hierdie toedrag van sake is dat wanneer van diaspora gepraat word, gewoonlik aan die globale verspreiding van die Jode gedink word.

Daar is egter verskillende soorte diaspora, bv. om arbeids- en handelsredes, imperialisme en gedwonge wegvoering soos slawerny, m.a.w. wanneer ’n tipe viktimisering plaas-vind. Hieronder kan godsdiensvervolging natuurlik ook tel.

Interessant is dat gedurende die Franse Rewolusie (1789-1799) ’n amnestie uitgereik is, sodat Hugenote na Frankryk kon terugkeer. Baie min mense het egter teruggegaan, want dit was reeds ongeveer ’n eeu later en meeste emigrante het reeds burgerskap ontvang van die lande waarheen hulle voorouers gevlug het.

In die V.S.A. is daar vandag dus stede soos New Orleans wat ’n baie sterk Franse karakter het. In Suid-Afika, sê Prof. Van Ruymbeke, het die V.O.C. (Simon van der Stel veral) die Hugenote gedwing om te verhollands, maar in die V.S.A. is hulle aangemoedig om hulle Fransheid te behou.

Daar was Franse immigrante wat selfs die Franse gehaat het en as Amerikaners in die Amerikaanse Onafhanklikheidoorlog (1765-1783) geveg het.

Baie Franse nasate in lande soos die V.S.A. en S.A. vier steeds hulle Franse oorsprong, en daar is ’n religieuse element betrokke wat beslis bydra tot die tradisie.

Plaaslik is ons Hugenote-Vereniging in 1958 gestig, met duidelike doelwitte.

Dit is, onder andere, die handhawing en bevordering van die nalatenskap en geskiedenis van die Hugenote in Suid-Afrika en die instandhouding van die Hugenote-monument en die Gedenkmuseum te Franschhoek.

Wanneer ’n mens die aantal boeke en artikels in ag neem wat al onder die vereniging se vaandel gepubliseer is, kan jy sien dat hulle voorneme om die impak van die Hugenote na te vors, insluitende die genealogiese aspekte daarvan, deurgevoer word.

Prof. Van Ruymbeke het sy werklik interessante lesing opgesom deur te sê dat hy en sy Italiaanse vrou die Kaap pragtig vind, dat die Franse name van plekke en plase tipies is van die Hugenote se aangenome lande, en dat hy uitgesien het om die WP op Nuweland te gaan ondersteun.

Wie weet, miskien het dié nuwe Franse bydrae die skaal toe geswaai, want ons weet nou al wat die eindtelling was.

Die verrigtinge is afgesluit met ’n heerlike ete en genoegsame wingerdsappies, maar bowenal was dit die gemoedelike geselskap wat my bybly.

En met Bastilledagviering volgende jaar kry ek vir my ’n blou beret met sulke wit, rooi en blou lintjies wat soos hoenderhaan-stertvere lyk daarop vasgespeld.

Terloops, daar was ook, benewens die Vereniging se produkte (DVD’s en boeke) ’n nuwe boek te koop aangebied – Op die galeie, vertaal uit Nederlands deur Fanie van Rooyen.

Volgens Mnr. Van Rooyen bied die boek nuwe insigte in die vraag “waarom het die Hugenote regtig getrek?”

Die vereniging se e-posadres is This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Written by Francois Verster You are reading Gekleur en geveer op Franschhoek articles

LIFESTYLE MENU

PROPERTY MENU

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Most Recent

Who's Online

We have 73 guests online