Skip to Content

Diepsee, met skenkels, kinkels en pitkos

Lifestyle Section - History

  cn_rh_historyOCT29_mAf en toe kom ’n boek op ’n mens se pad wat jy met soveel waardering lees dat jy nie daarvan afstand wil doen nie. Ek verbeel my dis soos wanneer jy ’n motorjoernalis is en jy kry jóú droomkar om te toetsbestuur. Jy hou so baie daarvan dat jy dit nie wil teruggee nie. Gelukkig is boeke nog bekostigbaar.

Maar hoe sal ’n droomboek lyk? Kan nie sê nie: dis soos die Heilige Graal. Dit bestaan waarskynlik nie. Hoofsaaklik omdat elke mens se idee van ’n fantastiese boek verskil.

Toegegee, mens sal seker ook van die mooiste motor moeg raak, en jou smaak in boeke kan ook verander. Soos ’n uitgewer eenmaal aan my gesê het: “Hierdie boek is die regte boek op die regte tyd!” Die vraag is vir wíé?

So, mens waardeer elkeen soos dit verbykom en ek waardeer Diepsee, die bundel keurverhale deur E. Kotze (ja haar voornaam is aan my onbekend, die naaste wat ’n mens kom is haar bynaam: “Sussie”), deur Suzette Kotzé-Myburgh saamgestel.

Oor die literêre aspekte van die bundel – wat beslis my bewondering ontlok, gaan ek nie hier uitwei nie (as jy wil, lees my resensie op die webwerf Litnet), maar eerder na die kultuurhistoriese elemente kyk.

Eerstens, die taalgebruik – en Kotze is ’n bona fide skrywer, nie ’n versamelaar van plaaslike anekdotes nie – sy is ’n woordkunstenaar, maar haar treffende, diep-menslike verhale het dié toegvoegde waarde dat dit ’n bewaringsfunskie het.

Waar mondelinge oorlewerings saam met die vertellers kan uitsterf, het skrywers se werk die voordeel dat dit op die geduldige medium, papier, kan voortbestaan vir baie eeue. Elektroniese weergawes kom en gaan ook, maar as dit op papier is, sal etlike geslagte die waarde daarvan kan hê. Daarom weet ek mense wat ná my kom sal hierdie boek ook lees.

Ek onthou die Namakwalands van my grootouers wanneer ek die dialoog-gedeeltes lees en die streekstaal en die gelowe en die gebruike en bowenal die menslike gees, daardie besondere aspek van ons spesie wat ons al vir so lank in feitlik onherbergsame streke laat oorleef het. Kotze vertel hierdie oorlewingsverhale met deernis, dog sonder sentimentele dwepery. “Daar was onteenseglik tekens van voorbereiding vir die Nagmaal: die rol rokgoed uit die plaaswinkel, die nuwe velskoene, die sambok en die uitgekeerde bokkapater.”

Kotze vertel van tradisionele gebruike, soos hoe die bloed van die bok opgevang is in ’n blik en die volgende oggend is Frits, die hoofkarakter in “Halfkrone vir die Nagmaal” af strand toe waar hy die nuwe rol snoeklyn ’n paar maal deur die nat seesand sleep om die wollerigheid van die nuwe lyn af te skuur. Dan vat hy die gestolde bokbloed en smeer die lyn daarmee in, want so hou die lyn langer. Snoek sien boonop ’n wit lyn te maklik en vat nie die aas nie. Sodoende bly hierdie tegniek bewaar, op papier. Ook gesegdes soos “Skêr, skêr, as hulle vir my koning maak, laat hang ek jou op.”

Sy meld tradisionele eetgoed van die kontrei: moskonfyt, persketameletjie, melksnysels, amandels, rosyne, bokkoms... En medisyne soos melkpap, gortlym en kasterolie. Woorde soos “silt” (sout) en “seebaard” (branderkruin), asook “loom”, “kenter”, “norring”, “bokstang” en “bankklêer” is danksy Sussie Kotze opgeteken; so sê Kotzé-Myburgh in Diepsee se voorwoord. Sommige kry mens wel in woordeboeke, maar dis nou al argaïsmes – nie meer algemene spreektaal nie. Name soos Jet en Fyta herinner mens aan name van die vissers van die Nederlande en jy wonder hoeveel kultuuroordrag daar was, van waar en wanneer en of sommige gebruike en woorde nie dalk al lankal op ander plekke uitgesterf het nie.

Ook die wisselwerking tussen Khoina-kultuur en dit wat van Europa na Afrika oorgespoel het. Kotze beeld die gelykmakende armoede wat skeiding tussen bruin en wit eerder na geringe klasseverskille verwater het, met die insig van lewenservaring uit. En die geografiese en kulturele isolasie; gebrek aan nuwe bloed en nuwe idees wat eksentrieke individue tot gevolg gehad het.

Sommige fasette van hierdie verhale sal helaas anders geïnterpreteer word deur mense wat nie die Weskus ken nie – wanneer Kotze skryf van Juffrou Verdoes se groot kroos van nege “wat soos stelle poedingbakkies drie-drie inmekaarpas” onthou ek my Ouma Koba se geel en oranje en groen poedingbakkies en ek weet presies wat die skrywer bedoel.

Ook verstaan ek hoe die wind die sand tussen venster en raam kan deurwaai, hoe die klammigheid van die seemis mense se velle en huise se mure kan deurdrenk en bowenal die taaiheid van mens en milieu; hoe dit ’n seker soort mens verg om dit raak te beskryf: “Babie is soos ’n wingerdboom wat met volmaan gesnoei is. Die dik, blink trane stoot onkeerbaar deur die vate van haar week lyf en loop oor in die hoeke van haar oë, waar sy dit ongesiens probeer wegpink agter haar bril.” Vir my is hierdie beskrywing dalk die naaste aan ’n metafoor vir ’n Sandvelder.

Uiteindelik sit ’n mens dié boekie van 256 bladsye neer en voel beide diep geraak en verryk.

Daarom, toe die redakteur van Kaapse Bibliotekaris my vra wat my “boek van die jaar” is, het ek geensins gehuiwer nie.

Written by Francois Verster You are reading Diepsee, met skenkels, kinkels en pitkos articles

LIFESTYLE MENU

PROPERTY MENU

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Most Recent

Who's Online

We have 68 guests online