Skip to Content

Kolonialisme as vloekwoord

Lifestyle Section - History

  cn_rh_historyOCT1-m5E k het in ’n onlangse rubriek na Britse kolonialisme verwys en vanoggend kry ek ’n e-pos hieroor, waarin die skrywer daarvan o.a. na ’n neerhalende stelling deur die voormalige staatspresident Thabo Mbeki se verwys, wat betrekking het op ons koloniale verlede.

Genoemde e-pos het my herinner aan die talle verskillende perspektiewe wat in die sogenaamde reënboognasie gehuldig word – omtrent soveel as wat daar kleure in ’n reënboog is...

Die geskiedeniskenner Dr. Cor Pama het 50 jaar gelede (2 Oktober 1964, om presies te wees) in ’n Afrikaanse dagblad geskryf: “Ons is almal daarvan bewus dat die woord kolonialisme in die wêreld van vandag amper ’n vloekwoord geword het.

Die nadele waat daar ongetwyfeld in die stelsel was, word so breed uitgemeet dat die voordele daarvan heeltemal in die skaduwee verdwyn en ’n mens nouliks nog ’n goeie woord daaroor durf sê. Tog het dié stelsel geweldige voordele aan die betrokke lande gebring, en die meeste van hulle sou selfs nie eens bestaan het nie, as eers as kolonies hul intrede op die wêreldtoneel gemaak het nie.”

Pama praat van kolonialisme as ’n vervloë stelsel, want hy verwys daarna in die verlede tyd. Beteken dit daar bestaan nie meer so iets nie? Is dit soos slawerny wat ons as iets in die verre verlede beskou, hoewel dit steeds bestaan?

Want daar is steeds vorme van slawerny, waar mense van hulle basiese regte ontneem word, terwyl daar ook steeds vorme van kolonialisme soos ekonomiese oorheersing voorkom. Maar, “kolonialisme” verwys gewoonlik na die dae toe die groot Westerse moondhede van Afrika ’n speelpark gemaak het. Altans, meeste Afrikalande sou verwys na die “Scramble for Africa,” (sedert die 1800s), maar hier in Suid-Afrika dink ons gewoonlik aan die tydperk 1652 – 1910 (Uniewording), óf tot 1961 (Republiekwording).

En dis nie die enigste saak waaroor ons verskil nie – vir sommige mense was Republiekwording, 31 Mei 1961, die dag wat Suid-Afrika onafhanklik geword het. Vir ander sou dié vreugde eers op 10 Mei 1994 aanbreek, toe Nelson Mandela as president ingehuldig is. Dog, al het Mbeki na wit Suid-Afrikaners as “setlaars” verwys, en by implikasie dan kolonialiste, beteken “koloniseer” om te misbruik en dan na jou eie land terug te keer. Is Australiërs, Amerikaners en Afrikaners dan koloniste, as hulle aanbly? As hulle nageslagte geen ander land ken nie?

Kyk mens na definisies van kolonialisme, en na Westerse kolonialisme in besonder, word beweer dat dit die volgende beteken: ’n Polities-ekonomiese fenomeen waarvolgens verskeie Europese nasies groot dele van die wêreld ontdek, oorwin, beset, en geeksploiteer het. Die  eeu van moderne kolonialisme het ongeveer teen 1500 begin, toe Europese seevaarders die kuslyne van Afrika (1488) en Amerika (1492) verken het. Sodoende het die politieke en ekonomiese wêreldmag van die  Mediterreënse See na die the Atlantiese oseaan verskuif en Portugal, Spanje, die Nederlandse Republiek, Frankryk, en Engeland het hulle kulture d.m.v. kolonisasie, oor die aarde versprei.

Dr. Pama se stelling dat kolonisasie ook positiewe kante het, verwys na o.a. die ontwikkeling van infrastruktuur, onderwys, administrasie en gesondheid, terwyl daar mettertyd politieke vryheid sou kom, maar teen ’n prys – minerale soos goud en diamante is op groot skaal onttrek en derduisende mense is in opstande dood. Die Boerepublieke en die Zoeloes het byvoorbeeld teen Brittanje opgestaan en is meedoënloos onderdruk.

Daarom bly negatiewe herinneringe steeds in die kollektiewe bewussyne van die betrokke nasies vassteek. Baie post-koloniale nasies voel daaroor asof ’n vloek oor hulle uitgespreek was, ’n skaduwee wat steeds in donker hoekies skuil.

Ander voel weer dat dié stelsel die skuld kry vir alle foute en tekortkominge in ontwikkelende lande, al is dit nou al dekades na onafhanklikheidswording – wat ook al met laasgenoemde term bedoel word.

Volgens Dr. Pama het die Nederlanders ’n skuldgevoel oor hulle koloniale verlede ontwikkel en “praat ’n bietjie verontskuldigend daaroor”.

Amerikaners, sê hy, beskou hulle koloniale verlede egter as een van die groot ondernemings van die sewentiende eeu. Afrikaners, sou ek sê, weet nie regtig wat hulle oor kolonialisme voel nie – hulle asossieer hulle glad nie daarmee nie.

Die vraag is egter of hulle as (voormalige dominante) minderheid toegelaat gaan word om ’n finale breuk daarmee te maak.

Written by Francois Verster You are reading Kolonialisme as vloekwoord articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 70 guests online