Skip to Content

: ’n Goeie hoof is soos ’n hawe

Lifestyle Section - History

  cn_rh_histOCT-mv8G W.D. (Dutton) Terblanche (5/03/1933-20/09/2014) is Saterdagaand oorlede. Sy familie mis hom reeds baie maar put vreugde uit ons herinnering aan hom en die wete dat hy hom nou by sy Hemelse Vader bevind. Sy gedenkdiens is op Vrydag, 26 September 2014 om 11:00 in die Hottentots-Holland NG Kerk, Somerset-Wes.t genoem dat die meeste nasate van die ou Hollands en Hugenote families ...

Dit is die boodskap wat via Facebook na my toe gekom het. Ek sien in die koerant ook ’n berig hieroor, met ’n foto van die bekende gesig van my ou skoolhoof by die Hoërskool President (Vrijzee), vir wie ek nes my laerskoolhoof by Parow-Wes, Mnr. Simpson, helaas ook reeds saliger, die grootste agting gehad het.

Vandag, sê mense my, is genoemde skole nie meer dieselfde nie – tye het verander, en om skoolhoofde van verskillende eras te vergelyk, sal onregverdig wees. Nogtans kan ek my dit nie voorstel dat dinge onder die Skim – soos hy by onderwysers en leerlinge bekend was – se wakende oog sou lostorring nie. Hy was nie iemand wat aan sy onderwysers sou sê “Vat die belhamels vas” en dan as ouers met hofsake dreig, sy hande in Jik was nie. Inteendeel.

Want George William Dutton Terblanche het vertroue ingeboesem; mense het nie getwyfel dat hy onwrikbaar standvastig en dat sy inbors onbesproke was nie. Hy het soos ’n goeie skoolhoof betaam, die nodige omgewing geskep vir ’n optimale leerervaring en ’n veilige ruimte vir kinders (al dink sommige ouers mos tieners is bonsai-volwassenes wat geen leiding benodig nie) om hulle in uit te leef.

In die jare 1975 tot 1979, toe ek daar skoolgegaan het, was die Hoërskool President een van die top-skole in die Skiereiland, oftewel in die jare toe die Skim daar hoof was. Presies tien jaar later het ek daar skoolgegee, maar die atmosfeer was anders. Onherroeplik anders.

Oor hierdie dinge en baie ander insidente en anekdotes het ek gedink toe ek die pad vat na Somerset-Wes op die triestige Vrydagmôre van 26 September 2014. My motortjie was twee dae tevore beskadig toe ’n groot kêrel in ’n nóg groter Pajero blindelings agteruitgestoot het – ek onthou Mnr. Terblanche het altyd smiddae met laaste afkondigings gemaan dat as ons op fietse teen motors bots, ons moet weet wie tweede gaan kom – en toe die wind die opgefrommelde agtermodderskerm begin skep, het harde klapgeluide my genoop om te stop.

“Nee, het ek gedink, dit sal nie deug nie.” Ek het teruggegedraai. ’n Kilometer verder het ek weer gestop. En omgedraai – “Nottewiel, ek druk deur, al moet ek 40km per uur ry. Skim se diens mis ek nie,” was my voorneme.

Die dominee se stem het al by die kerk se voordeur uitgedreun toe ek aankom. Ek het my karretjie langs die lykswa geparkeer en suutjies agter by ’n hoekbank ingeskuif. Die meeste van die oud-klasmaats wat daar was het ek 35 jaar laas gesien, en ek het hulle nie almal herken nie.

Ek het die Skim ook in 1979 laas gesien, maar ek glo ek sou hom wel herken het – die kort, forse man met sy kort krulhare en swartraambril wat my altyd so baie aan prof. Bun Booyens herinner het; klein van postuur, maar rysig van karakter – nooit anders as waardig en tegemoetkomend nie: ’n mens-mens wat sy Christenskap werklik uitgeleef het.

Só ook het die predikant en sy oud-kollegas hom daar beskryf as ’n hart-en-siel onderwysman en iemand wat nie respek afgedwing het nie, maar dit verdien het.

Sy seun Jean, wat saam met my in matriek was (soos die Skim ook by sý ouers in die skool was en sekerlik sy navolgenswaardige waardesisteem daar geleer het), het namens sy familie ’n roerende huldeblyk gelewer, vol treffende metafore van sy vader se nalatenskap, asook humoristiese staaltjies – want aan ’n eiesoortige humorsin het die Skim ook nie ontbreek nie: die droë, fyn soort wat soos die inheemse plantegroei van die Hottentots-Hollandgebergtes met aan-dag beskou moet word om die werklike trefkrag en -prag daarvan te kan waardeer.

Jean, self geseën met ’n heerlike humorsin, het vertel hoe sy pa soos die Gees wat Wandel ongesiens opgeduik het waneer niemand hom verwag het nie, dog sy teenwoordigheid was genoeg om die orde te herstel – g’n dreigemente nie, g’n kwaai teregwysings was nodig nie.

Die staaltjie wat egter vir my werklik tekenend was van hierdie skynbaar besadigde Boere-jintelman, was een hy self vertel het: dat toe hy pas in Vrijzee aangeland het, ’n winkelklerk hom gewaarsku het dat President ’n aaklige, tronkerige skool was en dat die nuwe hoof – dis nou hy – ’n regte tiran was. Méér verkeerd kon die tante egter nie wees nie.

Vir geen tiran sou ek met ’n flappende modderskerm van Brackenfell gery het nie, en dit was nie omdat ek en hy ’n geskiedenis gedeel het nie – ek het soos hy ook by beide President en Hoërskool Punt in Mosselbaai skoolgegee – nee, inteendeel. Dit was juis omdat my onderwysloopbaan soveel teen syne afgesteek het. Ek glo egter dit sou van meer betekenis kon wees as ek onder hom kon werk.

Op pad terug, die modderskerm vergete, het ek gedink oor die post-1994 Suid-Afrika ook soveel beter sou vaar met leiers soos mnr. G.W.D. Terblanche.

Mens sou kon sê “Die Skim is dood, lank lewe die Skim,” maar ek glo tog hy sal nie dood wees solank hy onthou en sy voorbeeld gevolg word nie.

Mag ons jeug ook eendag sulke herinneringe hê as wat die Skim ons gegee het.

Written by Francois Verster You are reading : ’n Goeie hoof is soos ’n hawe articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 112 guests online