Skip to Content

Wellington se landadel trek by die museum byeen

Lifestyle Section - History

  cn_rh_historyOCT01-mEk sê tong in die kies dat Wellington se “landed gentry” op Saterdag 20 September by die dorp se museum vergader het, want behalwe as arbeid wel “adel” soos die spreekwoord sê, is daar immers nie meer adellikes in Suid-Afrika nie.  Die spreker by die geleentheid, Dr. Andrew Kok, wat oor bekend plaaslike  families en hulle verwantskappe gepraat het, het genoem dat die meeste nasate van die ou Hollands en Hugenote families verwant is en dat mens in sekere gevalle honderde jare kan teruggaan op genealogiese lyne – dis natuurlik terug na Europa.

Sou mens die bevindinge van die menslike genoom-projek in ag neem, sou die (bloed)lyne met 'n boog terugdraai na Afrika! Soos ek onlangs aan iemand gesê het, grondbesit of eiendomsreg hang af van hoe ver mens wil teruggaan.

Nietemin, so kom ek toe weer ’n slag by Wellington se voortreflike musem uit en is ek nogmaals getref deur die pragtige kombinasie van bekwaamheid en gasvryheid wat as’t ware die handelsmerk is van dié instansie.  Die werk wat die kurator en haar span hier verrig kan nouliks te hoog geskat word, maar een ding weet ek wel, en dis dat Wellington se inwoners ’n bo-gemiddelde belangstelling in hulle dorpsmuseum toon en dit kan nie toevallig wees nie.

Dit is ’n wêreldwye verskynsel dat meeste museumbesoekers van buite die betrokke dorpe kom, terwyl die meeste dorpsbewoners nooit ’n voet in hulle eie museums sit nie. Ek wil elke leser dus versoek om minstens een maal by die naaste museum in te loer en ’n gesprek met die personeel aan te knoop. Jy sal nie spyt wees nie.

Maar terug na die verrigtinge van daardie dag. Nadat die formaliteite afgehandel is, het Dr. Kok begin vertel van goewerneur Simon van der Stel wat in die laat-sewentiende eeu 23 plase toegeken het in die area wat hy Drakenstein gedoop het, verwysend na die kasteel Drakenstein naby Utrecht in Nederland.

Later het dit Wagenmakersvallei, toe Val de Charron (Vallei van die Wamakers) geword en eers in die Engelse tydperk word dit Wellington. Franse Hugenote wat in 1688 hier aangeland het, het van gebiede soos Frans-Vlaandere, Provence, Normandië en die Loire-vallei gekom, en is in onderskeidelik in Daljosafat, Olifantshoek (nou Franschhoek), en Klein-Drakenstein gevestig.

Anders as mense later vertel het, is die Hugenote nie juis tussen Hollandse boere geplaas nie – dit sou kwansuis so gedoen gewees het sodat die “Franse” gouer kan verhollands. Hieroor het Dr. Kok tereg gesê dat die landsgrense in Europa anders was as wat ons dit vandag ken, sodat vandag se Hollanders dalk gister se Duitsers was. Of andersom.

Verder is al gevind dat nie al die Hugenote werklik Frans was nie, maar Vlaams, en dis waarom Frans as taal binne die verloop van een of twee generasies nie meer hier gepraat is nie. Boonop was daar mense van talle nasionaliteite in diens van die VOC, sodat daar byvoorbeeld Skandinawiërs met verhollandsde vanne as Hollanders aangesien is.

Interessant is die naamgewing van die gebied – Bovlei, uiteraard omdat dit in die boonste deel van die vallei is, en Blouvlei weens die donker, ryk leemgrond daar.

Familiename soos Cronier (Cronjé), Cilliers/Cillié, Rossouw (daar is meer as ’n dosyn spelwyses hiervan), Malan, Du Plessis, Le Roux, Joubert, Retief en Fourie is nog volop en blykbaar almal familie – Dr. Kok sê mens kon immers net so ver gaan kuier het as wat ’n perd in ’n aand kon kom, so vir “vry in die vreemde” was daar min kans. Sommige vanne het al uitgesterf; soos Duthuile, Taillefert en Mouy (Pierre Mouy was Piet Retief se skoonvader) hoor mens nie meer hier nie.

Daar was wel Hollandse vanne op die titelaktes (die ou plaasname verskyn steeds daarop, ten spyte van latere veranderings van dié name), soos Van Wyk, Jacobs, Erasmus en Blom, asook (meer) Duitse vanne soos Herfst, Hauptfleisch en Vosloo. Spellings het ook gevarieer, want spelwyse was nog nie gestandardiseerd nie, ook wat die taal in die algemeen betref – ek lees soms dat mense dink ons voorsate kon nie spel nie.

Dalk was meeste taamlik “ongeleerd”, maar daar was tóé geen Woordelys en Spelreëls nie! Dit is wel so dat meeste koloniste nie adellikes was nie, maar uit die laer middelklas, mense wat hier ’n bestaan kom maak het om weg te kom van die onderdrukking van nie net die Katolieke Kerk nie, maar ook die haglike ekonomiese omstandighede in Europa.

Afrika se ooptes het hulle aangelok en niemand het gedink dat iemand later hulle eiendomsreg sou betwis nie. Die Europese konsep van grondbesit was gebaseer op die besetting en gebruik daarvan, nie op wie die weiding en water daar (periodiek) gebruik nie. Latere gedwonge afsettings is natuurlik iets anders.

Dis nie hier moontlik om ’n gedetailleerde uiteensetting van plaastoekennings en latere onder-verdelings daarvan te maak, soos Dr. Kok dit gedoen het nie, so ek sluit af met gelukwense aan hom vir ’n onderhoudende lesing en aan Olivia en Christine: dankie vir die uitnodiging. Ek sien uit na die volgende besoek.

Written by Francois Verster You are reading Wellington se landadel trek by die museum byeen articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 73 guests online