Skip to Content

Lady Anne Barnard:die vryheidsikoon

Lifestyle Section - History

 
historyJAN29-mv

In die vorige twee rubrieke het ons gelees van Lady Anne Barnard (1750-1825) wat kommentare gelewer het oor Bolandse plekke en die leefwyse daar. Die bron was Jose Burman se In the footseps of Lady Anne Barnard (Human & Rousseau, 1990).

Lady Anne se dagboeke was nie geskryf met die doel dat vreemdes dit moet lees nie, maar aangesien die dokumente waardevolle inligting oor daardie tyd aan die Kaap verskaf, is dit mettertyd geredigeer en gepubliseer deur verskillende uitgewers.

So het die Van Riebeeck Vereni-ging haar dagboeke in twee volumes uitgegee, maar voor dit was daar ook The Letters of Lady Anne Barnard to Henry Dundas 1793-1803 (1973) deur Dr. Antony Lewin Robinson, toe direkteur van die Suid-Afrikaanse Biblioteek.

Heel gepas, want hy was verantwoordelik vir die ontvangs van sommige van die oorspronklike briewe deur Lady Anne vir die biblioteek in 1948.

In 1995 het die Van Riebeeck Vereniging ook The Cape Journals of Lady Anne Barnard 1797-1798 uitgegee, ook deur Robinson saamge-stel en versorg deur Margaret Lenta en Dorothy Driver.

Verder het Dorothea Fairbridge in 1924 reeds Lady Anne Barnard at the Cape of Good Hope, 1797-1802 gepubliseer, en daarna sou Madeleine Masson se Lady Anne Barnard: The court and colonial service under George III and the Regency in 1948 verskyn.

Dit sal meeste mense wat al oor die pikante, prikkelende en pittige Lady Anne gelees het seker weet. Hulle sal heel moontlik ook weet dat Lady Anne benewens skilder (sy was nogal talentvol) ook gedigte geskryf het, soos die getoonsette Auld Robin Gray.Sy het eers later in haar lewe erken dat sy die outeur daarvan was, want skryfwerk was as benede haar stand beskou.

Dalk minder bekend is die bundel gedigte wat Antjie Krog geskryf het, bloot getiteld Lady Anne, gepubliseer in 1989 deur Taurus, ’n uitgewer (1975-1992) wat gewaag het om werke uit te gee wat ander eerder sou systap op daardie stadium van ons land se geskiedenis.

In elk geval, tussen my boeke op hulle oorvol rakke skuil die klein rooi boekie ook, en ek onthou dat Prof. Louise Viljoen, wat ’n kenner is van Krog se werk, oor die bundel geskryf het dat dit ’n post-moderne skepping is, soms geskryf uit die verbeelde oogpunt van die lady self en soms uit ’n eerstepersoon perspektief, wat duidelik Krog is.

Albei vroue is/was lede van die bevoorregte wit groep, hoewel die een ’n Britse kolonialis was wat amper twee eeu gelede al dood is en die ander ’n Afrikaner  van ons tyd.

Hulle veroordeel albei slawerny ten sterkste en kritiseer sekere ander sosiale belaglikhede van hulle onderskeie leefperiodes, hoewel Lady Anne tog anders as die verligte en moderne Krog na dinge kyk – tydgees, daardie ontwykendste van geeste vir die historikus én digter, is die rede hiervoor: Ons kan ons net verbeel (na aanleiding van geskrewe bronne) hoe mense wat lankal dood is hulle en hulle tydgenote se handelinge werklik geïnterpreteer het.

Hoe meer bronne ons kan bekom om te vergelyk, hoe beter, maar steeds weet ons dat ons grow-we miskonsepsies kan vertroetel om sodoende mites te skep wat die aanvaarde beeld van die verlede en redes agter ons huidige vooroor-dele vorm.

Elke geslag kan daardie distorsie vererger, amper soos ’n hoëtroustel met elke bykomende komponente of luidsprekers groter klankdistorsie kan veroorsaak.

Nietemin, Prof. Viljoen reken dat aangesien geskiedskrywing gewoonlik behep is met “groot manne en nasies,” Krog met haar keuse van ’n vroulike figuur die stelling maak dat gender kwessies van besondere belang is in die moderne Suid-Afrika.

Geskiedenis was wel “the story of great men” in Lady Anne se tyd, maar nie vandag meer nie – gelukkig vir ons en ons nasate, want ons verminder sodoende reeds ’n bietjie van daardie verwringende effek wat mitevorming benodig om die grense tussen feit en fout te laat vervaag.

Prof. Viljoen beweer Krog se “brutale eerlikheid” oor haar bevoorregting is ’n voorbeeld van post-koloniale Afrikaans literatuur waarin elemente van teenkanting teen die wit bevoorregting voor-kom, maar tog ook medepligtig-heid aan die oorheersing van die (huidige term) agtergeblewenes.

Lady Anne, daarenteen, sou nooit kon raai watter nalatenskap sy hier sou hê nie. Nog minder dat sy betrek sou word in die Struggle, en dit deur iemand wat geensins skaam is daarvoor dat sy as vrou ’n digter is nie. Al is sy Boere-adel.

Dinge verander dalk minder as ons wil hê maar dit verander wel.

Written by Francois Verster You are reading Lady Anne Barnard:die vryheidsikoon articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 83 guests online