Skip to Content

Die lady en die snobs

Lifestyle Section - History

 
historyJAN15-mv

Laas week mos belowe om te onthul wat Lady Anne Barnard oor die snobs van Stellenbosch te sê gehad het. Wel, dit was eintlik net dat hulle glo te hard gespog het oor hulle wyne. Altans, dat hulle gemaak het asof goeie wyn hier rond eintlik maar plonk was.

Persoonlik het my enigste ervaring van Franse wyne in Provence en Boergondië (dis nie name van Franschhoekse plase nie, vir dié wat wonder, maar streke in Frankryk) my geleer dat g’n Stellenbosser die Franse iets oor snobisme kan leer nie – hulle vertel dan daar al ons wyne is versnitte.  Bid jou aan; sulke chauvinistiese sotterny!

In elk geval, die gewoonlik heel objektiewe Lady Anne se sienings is ook maar soms gestriem deur eie vooroordeel – sy was ook maar net mens, soos my oom gesê het toe ek hom vertel die dominee het eers sy nuwe buitebande afgehaal voor hy sy kar verkoop het.

Nietemin, sy beweer dat Stellenbossers van daardie tyd (1797, dus twee jaar ná die Eerste Britse Besetting) géén wyn aan tafel geduld het “behalwe port, klaret of Madeira” nie.

Sy sê die boere het ’n lae dunk gehad van “Kaapse” produkte, maar dat sy en haar man Andrew juis uitsluitlik Kaapse wyne gedrink het, al het hulle toegang gehad tot “every other good wine at table, Champagne and Burgundy excepted.”

Lyk my hulle het dié twee tipes drank as eksoties of duur beskou.

Maar as hulle nie te veel vir wyn wou opdok nie, sou hulle nie te gemaklik in Frankryk kon woon nie. Omrede hulle amper net Borrels en Boers sou kon drink daar – Franse plonk is ondrinkbaar, in teenstelling met ons s’n. Hulle beste wyne is puik, maar die res ... ek beveel eerder bier aan.

Lady Anne noem die mooi geboue van Stellenbosch, soos die Kruithuis (1777), die Kerkhuis (1779) en die Burgerhuis (1791), en mens kan dink dat die pragtige strukture baie anders gelyk het as Skotland waar sy gebore is of as die oorbevolkte Londen waar sy ook vroeër gewoon het.

Nadat haar man sy amptelike besigheid in Stellenbosch afgehandel het is hulle vir ’n daguitstappie na die destydse Hottentots-Holland.

Sy skryf dat die arme Khoi-khoi daar weggedryf is, hoewel sy ook melding maak dat hulle “hoofman Sousoa” die Helderberg vallei aan die Hollanders verkoop het.” Toe sy daar was, was daar reeds ’n aantal lieflike plase, soos Voorburg, Onverwacht, Morgenster, Cloet-enburg en Vergelegen.

Sy beweer daar was toe reeds geen Khoi-khoi in sig nie, net slawe en kolossale opstalle. Elke plaas het slawehuise gehad, wat nie verwar moet word met die latere huise vir slawe wat die Metodiste gebou het nie.

Maar die beste deel van haar relaas oor die huidige Helderberg is dat sy die berugte Hottentots-Holland Kloof Pas wou gaan besigtig, maar volgens die skrywer Jose Burman kon sy onmoontlik in die bestek van een dag van Stellenbosch af tot aan die anderkant van dié pas gereis het om ’n geloofwaardige beskrywing van die pas te gee.

Sy reken egter Penman Mewre in Wallis, wat sy self besigtig het, was meer indrukwekkend. Siende dat ons haar woord daarvoor moet neem volstaan ons dan maar met die meerderwaardigheid van ons wyn. Want wys my die wyn wat die Wallisers maak – heng, ek sou ook eerder in die steenkoolmyne gaan wegkruip het!

Alle grappies op ’n stokkie; Lady Anne gee later haar onkunde oor die toestand van onse pas weg deur te skryf: “I hear I was wrong as it appears the most terrible when on it.”

Daarmee erken sy dat sy nie oor die pas was nie, maar haar aanvanklike mening van ’n veilige afstand gegee het. En ses maande later kom die finale ironie: sy moes self die pas oorsteek op pad na die ooste van die Kolonie.

Toe skryf sy: “The path was so perpendicular, the jutting rocks over which the wagon had to be pulled so large in the middle of the road, that we were astonished how it could be accomplished at all.”

Ga, as sy my ouma sou hoor oor die kaalvoetlopery oor die Drakensberge ...

Die volgende dag is hulle toe Paarl toe en daar gekom, het die liewe Lady weer iets kontroversieel te sê gehad oor die grootte van die granietkoepels. Sommige mense leer maar swaar. Gelukkig het die Bolanders darem ’n goeie sin vir humor – destyds en steeds.

Written by Francois Verster You are reading Die lady en die snobs articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 59 guests online