Skip to Content

Herinneringe van ligflitse en stoomwolke

Lifestyle Section - History

 
historyJAN8-mv

Ek trek ’n boek uit my rak en skielik is ek op ’n ander plek en tyd. Dis die krag van boeke; of altans van die  stories binne daardie blaaie.

Die plek waarheen ek gevoer is, is die groendak gebou teen die heuwel naby De Waal Rylaan, Kaapstad.

Die tyd is 1992 en dis ’n Maandagaand net ná sononder met ’n swart suidooster wat buite woed en emmersvol reën wat kort-kort teen die vensters klots, amper so hard as die branders aan die ander kant van die oudste stad in Suid-Afrika.

Ek sit alleen in my kantoortjie en skryf ’n verslag. My vrou werk ook nog. Oortyd, en ons deel ’n motor so ek sit hier gestrand.

Al wat ek kan hoor in die massiewe gebou, slegs ’n paar jaar gelede opgerig op die ou standplaas van die Roelandstraatse tronk, hier waar in die 1950s nog mense gehang is, is die geloei van die wind en die geklap-klap van deure en vensters wat ratel in hulle rame.

Skielik klink daar ’n ander geluid op: die geflikker van buisligte wat afgaan.

Ek onthou ’n ander keer toe ek as student een aand die trein uit Stellenbosch huistoe gery het.

Die ligte in die trok het een vir een afgegaan totdat net een gebrand het, reg bokant my waar ek langs die “agterdeur” gesit het.

Dit was asof die donkerte treetjie vir treetjie na my aangestap het en ek het doodstil gesit, werklik “ademloos” soos hulle in die storieboeke sê.

En so het ek tot in Bellville gesit, al starende na niks. Toe ek op die perron afklim, effe tentatief met bewerige bene, het ook daardie laaste lig uitgegaan.

Maar hier, meer as ’n dekade later, sit ek toe weer en wag dat die donkerte na my aankom. Die wind het stil geraak en net toe die gang voor my kantoordeur donker is, het ek opgekyk en ’n ou man gesien.

Sy gesig was maer en sy oë was uitdrukkingloos. Ek het versteen gesit, nes destyds. Te bang om asem te haal. Toe begin hy praat. Hy vertel my hy was ’n treindrywer en van al die mense wat hy dood-gery het.

Ek het net gesit en knik-knik-knik soos ’n Noddy-pop met ’n sespak Red Bulls agter die blad. My oë moes ook oordrewe geknipper het, want tussen twee sulke knippe was hy weg.

Die volgende dag het ek hom weer gesien en ’n wye draai gegooi. Hy het hierdie keer geknik en geglimlag.

Hy was gewoond daaraan dat mense hom vermy. Dié wat hoegenaamd kon. En mense soos hy is selfs uiteindelik deur die SA Spoorweë en Hawens verstoot.

Daarom was hy toe ’n sekuriteitswag wat alleen in die donker gange van die Kaapse Argief rondgestap het.

So, dis die herinneringe wat ’n sekere boek in my losgemaak het. Die boek se titel is Early railways at the Cape, een van die talle boeke deur Jose Burman wat handel oor die gloed van die glorie van vergange dae.

Die boek is in 1984 deur Human en Rousseau uitgegee, in dieselfde tydperk toe ek naweke per trein tussen Stellenbosch en die noordelike voorstede gereis het.

Ironies dink ek, ook die eerste sin in die boek: “At first sight a book about railways might appear to hold little or no interest to anyone other than a railway enthusiast – but such first sight could not be more wrong.” Inderdaad.

Oor treinentoesiaste het ek ook heelwat herinneringe, maar op hierdie stadium sal ek liefs op die boek fokus. Burman noem die spoorlyne tussen Wellington en Kaapstad, die Wynberg verbinding, ook die een tussen Worcester en Mosselbaai.

En dan maak hy ’n interessante stelling: die storie van spoorweë is eintlik een oor ’n land, want die doel van enige spoordiens is altyd om ’n land oop te maak vir ontwikkeling. Aanvanklik was daar private lyne en daarna het die staat oorgeneem.

In ons geval het die ontdekking van minerale as lokaas gedien en die provinsies het gekompeteer om die verbindingslyne te beheer. Burman sê die tradisionele kloof tussen Boer en Brit is oorbrug deur die wedywering – geld maak klowe dunner en krommerige lyne reguit.

So hoop mens dan dat kwessies soos die e-tol debakel ook die nasie gaan verenig: twee magtige kragte sal saamwerk om dit te vermag – as aan mense se beursies gevat word, is daar probleme én as hulle boonop ’n gemeenskaplike vyand het ... of gryp mens na strooihalms so kort nadat die nasie die president uitgejou het?

Ja, dit klink ingewikkeld, maar dis Suid-Afrika. Hier is niks eenvoudig nie.

Daarom kan ek maar net meewarig knik as ek lees dat Burman sê dinge sou darem baie makliker gegaan het as ons minder berge en meer bevaarbare riviere gehad het.

Maar dan sou ons dalk ook vir minder jare die plesier gehad het om trein te ry, om die ou blinkswart steenkoolvreters hulle donker pluime te sien uitborrel en hulle nasate die dieselbulle te hoor bulk. Maar nou is daar nog Eskom wat die elektriese modelle kan lamlê. So, wie weet? Uit Afrika altyd iets nuut. Of oud.

Op ’n ander keer weer meer oor Burman se treinboek.

Written by Francois Verster You are reading Herinneringe van ligflitse en stoomwolke articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 51 guests online