Skip to Content

Madiba, die mens en simbool

Lifestyle Section - History

 

Anders as die sanger Prince, wat homself ook al “Symbol” genoem het, is Nelson Rolihlahla Mandela werklik ’n simbool. ’n Prins ook, maar bowenal ’n prins van ’n mens; ’n Mensch, soos die Duitsers sê.

Vandag is hy ’n ikoon, asof ’n blote gereedskapstuk vir vrede en nasiebou, en dit voel asof sy menswaardigheid, juis die een ding wat hy altyd vir almal toewens, daarmee aangetas word.  Dog, hy het self gesê “my lewe is die Struggle”, en dit word allerweë erken dat sy persoonlike lewe, en na sy eie bekentenis ook dié van sy gesin, opgeoffer is om rassisme in alle moontlike vorme te beveg.

Die ikoonstatus het hyself probeer afmaak deur daarop te wys dat hy ook foute het (“Eerder as ’n aanwins, is ek meer van ’n versiering”), maar dis natuurlik as blote beskeidenheid geïnterpreteer en het die heldeverering net gegroei.

Ons het amper ademloos gewagop die einde van die man eens bekend as die Swart Pimpernel, nou net ons geliefde vaderfiguur Madiba. En hoe ken ons hom? 

Hoofsaaklik uit wat ons lees: die media en boeke, waarvan daar al ’n hele “Madiba oeuvre” is. Ook gepas, want hy verdien erkenning én was self lief vir lees.

Die konstruksie van die legendariese Madiba is skynbaar hoofsaaklik te wyte aan inligting wat hy self verskaf het, soos in die boek Nelson Mandela, conversations with Myself vervat is.

Oor dié boek wat in 2010 verskyn het (Macmillan, geredigeer deur Tim Couzens), is gesê dat wat as sy briewe en notas in gevangenskap (27 jaar, 18 op Robben Eiland) reeds vir ’n gehoor aangebied is, word herhaaldelik “herinterpreteer deur skrywers en word nog ’n laag oor die werklike Madiba gegooi” – Anna Trapido, skrywer van Hunger for freedom (Jacana, 2009).

Couzens se mening was egter dat hoewel Mandela geweet het andere sal sy geskrifte lees, hy nie kon voorsien dat dit so wyd aangehaal sou word nie.  Later verskyn talle ander boeke soos die pikante In the words of Nelson Mandela (Penguin, 1997), en die insiggewende After Mandela deur Douglas Foster (Liveright, 2012).

Beide bevat profetiese stellings, wat binnekort as waar bewys mag word.  Die blitsverkoper Long walk to freedom (Little, Brown & Co., 1995) is uiteraard die vernaamste bron van insig in Madiba se lewe wat meeste mense ooit sal hê.

Daarin kan mens lees oor hoe hy uiterlik gevorm is, maar homself uiteindelik innerlik gedefinieer het – sy Xhosa agtergrond, aanvanklike  Christelike opvoeding, latere Marxistiese aanklank en tempering deur lewensgevaarlike aksies deur en teen hom en sy organisasie die ANC, wat hy in 1997 as “die grootste prestasie van die 20ste eeu” beskryf het. Miskien is Madiba self die grootste prestasie van die ANC, maar ook van Suid-Afrika, en dit sal dié party loon om dit te onthou.

Uiteindelik kan ons vra: wie was Madiba, dié groot Suid-Afrikaner, Nobelpryswenner, die leier wat meer geliefd was – plaaslik en internasionaal – as ál die ander, insluitend Jan Smuts?  In die gees van Madiba dan (al het hy in 1964 tydens die Rivonia saak verklaar: “Ek dink nie daar is veel wat die geskiedenis oor my kan sê nie”); ter wille van diegene wat nie internet of boeke kan bekostig nie, vervolgens ’n kort samevatting.

Die man wat Ubuntu (wesenlik: ons menswees word deur interaksie met ander mense bevestig) werklik verpersoonlik, in op 18 Julie 1918 in die Transkei gebore.Sy universiteitsopleiding was by Fort Hare en Wits, en hy het afgestudeer in die regte in 1942.

Hy sluit aan by die African National Congress in 1944, waarna hy betrokke was in die weerstand teen apartheid.

Hy was skuldig bevind aan hoogverraad, maar is vrygelaat in 1964, stig daarna Umkonto we Sizwe, word lewenslank geïnterneer weens sabotasie en is uiteindelik vry in 1990.

Daarna volg die eerste ten volle demokratiese verkiesing in 1994, en hy word staatspresident tot 1997.

Ten slotte: volgens die boek South Africa’s Nobel Laureates (Jobathan Ball, 2004), is die een ding wat Madiba bo ander Afrika leiers laat uitstaan die feit dat hy glo dat die land aan al sy inwoners behoort.

Dit was sy visie. Die vraag is nou: gaan dit verwesenlik word?

Written by Francois Verster You are reading Madiba, die mens en simbool articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 54 guests online