Skip to Content

Oor die wieg en die weë van ’n taal

Lifestyle Section - History

  historyDEC3-t

Laas week was ek weer by Welgemeend in Kaapstad, dié slag om die bekendstelling van Marie Heese se boek Vuurklip by te woon. Hierdie historiese roman handel oor die menslike inwoners van die Kaap, lank voor enige van die groepe wat ons vandag ken hier was.

Een van die vrae wat die skrywer moes beantwoord was of daar al iets soos taal was sowat 100 000 jaar gelede. Sy antwoord toe dat dit ’n vraag is wat akademici vir ’n lang tyd graag ontduik het, maar sy glo wel daar was, want hoe anders sou gemeenskappe oorleef het in die moeilike omstandighede, veral in periodes van intense koue, terwyl hulle ook redelik gesofistikeerde implemente vervaardig het, wat spanwerk en kommunikasie sou vereis.

Mens kan egter nie sê taal het vandag of gister begin nie. Want wat is taal? Hoe lank neem dit om te ontwikkel?

By ’n ander lesing deur Dr Helena Liebenberg (by SASNEV, Pinelands) oor taalvorme waaruit Afrikaans ontwikkel het, het sy gesê dat Afrikaans baie ou oerwortels het, en oer-Germaans, Germaans-Indies, ens. as voorbeelde genoem – en dis duidelik dat taal as kommunikasiemedium al lank met ons is, en dat daar altyd oor en weer geleen word wanneer kultuurgroepe ontmoet.

Afrikaans is inderdaad ’n goeie voorbeeld van hoe ’n taal deur baie groepe verryk word – hoewel sowat 80% van die oorsprong Nederlands is, het inheemse mense, slawe van oraloor en Europese invloede (Frans byvoorbeeld) almal bygedra om die woordeskat uit te brei.

Ook Engels, soos die woorde “boks” en “garage” wat nou aanvaarbaar is, ten spyte van sterk teenkanting weens die imperialistiese teësin wat hier ontstaan het sedert die Eerste Britse Besetting in 1795.

Hierdie gedagtes het by my opgekom toe ek op 26 November by die Afrikaanse Taalmonument teen Paarlberg se nuwe konferensiesentrum opdaag, en die uitstekende uitstalling daar oor Afrikaans se ontstaan sien. Op opvoubare panele (’n “reisende uitstalling”) is hoogtepunte van die taal se ontwikkeling op aanskoulike, kleurvolle wyse geïllustreer en met duidelike byskrifte uiteengesit.

Hierdie uitstalling kom reeds van 2009 se Afrikaanse Taalprojek, wat ’n inisiatief was van die Wes-Kaapse Departement van Kuns en Kultuur, in samewerking met die Universiteit van Wes-Kaapland en die Koninklike Nederlandse en Belgiese ambassades, om ’n platform te skep waarvandaan verhoudinge tussen Afrikaans en Nederlands bespreek kan word. Die projek is ’n meganisme vir die “viering van Afrikaans se ryke verskeidenheid” – aldus ’n pamflet getiteld Afrikaans aan die praat.

En dis ook interessant dat ’n gedeelte van die uitstalling gewy word aan die periode na 1994, wat as ’n taal-herlewing bestempel word. Die opbloei van talle feeste, bv. die Woordfees en KKNK, word aangedui as manifestasies van dié herlewing.

In die knus konferensiesaaltjie van die besoekersentrum het ’n warm, amper huislike atmosfeer geheers, grootliks weens die toedoen van Isabeau Botha en haar kollegas se hartlike inslag en entoesiastiese, kreatiewe insette.

’n Meer toegewyde span kan Jack Louw, die direkteur van die Afrikaanse Taal Museum en –monument (ATM), sekerlik nie wens nie. Hyself is ook soos gewoonlik teenwoordig, altyd vriendelik en verwelkomend.

Gaste vir die geleentheid het elkeen ’n kartonhouer met presente binne – plantjies, koek- en koeksisters, appels en oogklappe (om afgehaal te word om die werklikheid rondom jou beter te kan sien en waardeer), en daarna het Jack, Zania van der Merwe en Isabeau vertel van die uitstalling en die talle aktiwiteite, soos pretdrawwe, fotografie-kursusse, pieknieks en musiekgeleenthede wat by die monument aangebied word.

Belangstellendes sal aangenaam verras word indien hulle die web-werf by www.taalmonument.co.za besoek. Ekself het al die maanligpiekniek- en musiekaande bygewoon en kan dit aanbeveel.

Die monument is al onvleiende dinge toegesnou, nie dat dit so ’n onooglike affêre is nie, maar soos Engels al as ’n bedreiging gesien is, is Afrikaans ook. Daarom voel mens dat Jan van Wyk, die argitek daarvan, genoeë sal neem in die wete dat sy wens nou bewaarheid word: dié monument is ’n “lewende” monument.

Baie buitelandse besoekers is verwonderd dat daar ’n monument vir ‘n taal opgerig is, maar soos dit met die meeste monumente en museums die geval is, is dit die mense wat die naaste daaraan woon wat die minste daar kom.

Die personeel doen egter baie om die situasie om te keer en hulle het al talle suksesse in hierdie verband behaal.

Die een ding wat ek sedertdien vra is nie waar ’n taal begin nie, maar waar dit eindig. Indien die erfgename van Afrikaans nie die einde daarvan wil sien nie, kan hulle gerus begin deur hulle steun aan die ATM te betoon.

Boeke oor Afrikaans:

  • The Afrikaans of the Cape Muslims, deur Achmat Davids (Protea, 2011).
  • Halala Afrikaans, redakteur Daniel Hugo (Protea, 2009).
  • So kry ons Afrikaans, deur Christo van Rensburg (Lapa, 2012).
  • Die saak vir Afrikaans, deur die Stigting vir Afrikaans (JL Van Schaik, 1992).
  • No lesser place, the Taaldebat at Stellenbosch, deur Chris Brink (Sun Press, 2006).

Written by Francois Verster You are reading Oor die wieg en die weë van ’n taal articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 52 guests online