Skip to Content

Welgemeend staan steeds sterk

Lifestyle Section - History

  historyNOV20-m

Windskeef grafstene langs ’n ou kerk aan die voet van Helderberg. ’n Spierwit herehuis in Tafelberg se skaduwee. Wat is die gemeenplaas?

Hofmeyr. Dié naam verbind ’n gesiene familie –  en een van die mees gerespekteerde lede daarvan:  Onze Jan (1845-1909), man van sy volk – met die paar begroeide, eensame grafte en die lieflike herehuis wat sierlik uittroon bokant ’n lieflike tuin wat afterras in Tafelbaai  se rigting.

Vroeër jare kon mens van die prieelbekroonde stoep seilskepe in die hawe sien, maar nou blokkeer wolkekrabbers die uitsig. Die tekens van die tye lê egter nie net in die ooglopende onder Afrika se alsiende son nie, maar ook in die minder sigbare, soos wat in die ou Welgemeend opstal aangaan.

Die Vriende van Welgemeend en die Boerneef-Versameling sorg vir die instandhouding, hoewel die huis en tuin op Hoërskool van Riebeeck se gronde staan. Skilderye word gerestoureer, die tuin word versorg en die oorspronklike opskuifvensters word ook reggemaak waar nodig, nogal teen aansienlike onkoste, maar deur kenners wat die geld werd is.

Soek mens Welgemeend se geskiedenis op die internet, kry jy ’n stuk by www.welgemeend.com, saamgestel deur een van die komiteelede, die bekende kultuur- en kunskenner Dr. Hans Fransen, waarin genoem word dat die landgoed ontstaan het in 1693 toe ongeveer vier hektaar aan Andries de Man toegeken is. Die plaasnaam verwys na die feit dat die eienaar aangenaam verras is – die benaming beteken “welbedoeld” – deurdat die onderneming selfs beter dividende opgelewer het as aanvanklik verwag is. Die standhoudende fontein wat sekerlik tot die goeie uitkoms bygedra het borrel vandag steeds onbevange voort, hier waar woonbuurte soos Oranjezicht en na die weste Tamboerskloof die eerste plasies verswelg het.

Dr. Fransen skryf dat ná De Man se dood in 1696 erf sy weduwee Elsje van Suurwaarden (na wie Elsiesrivier vernoem is) die eiendom. Toe was daar reeds  ’n woonhuis en ’n skuur. Die oorspronklike huis was moontlik deel van die huidige gebou, hoewel dit heelwat kleiner was en waarskynlik ’n strooidak gehad het.

Gedurende die volgende 50 jaar het die eiendom verskillende eienaars gehad. Teen 1719 het dit bestaan uit die woning met een groot en twee kleiner kamers, ’n kombuis en ’n kelder, sowel as ’n wynmakery, ’n slawehuis, ’n waenhuis en ’n kraal.

Die langste tydperk van eienaarskap van een familie begin in 1772 toe die weduwee van die eienaar Bartholomeus Bosch trou met Jan Hendrik Hofmeyr.

Vir ’n volle 172 jaar bly Welgemeend daarna die tuiste van die Hofmeyrs. Etlike van hulle het die name Jan Hendrik gehad, insluitend “Onze Jan” en die kabinet minister J.H. “Klein Jan” Hofmeyr (1894-1948).

In 1944 is dit aangekoop deur die Kaapse Departement van Onderwys.

Soos by baie tradisionele Kaapse geboue met hul steil strooidakke en dikwels met gewels, het Welgemeend moontlik aanvanklik nie sy huidige plat dak gehad nie, maar ‘n geboë dak sonder gewels.

Die woning het ook slegs ’n klein gedeelte van die huidige, groterige grondplan beslaan. Die huis bestaan huidiglik uit twee rye kamers, die een agter die ander. Dit is seldsaam in Kaapse wonings waar ‘n strooidak nie meer as een ry kamers kon oorkoepel nie.

’n Studie van die plafon van die “salon” aan die agterkant, met sy pragtige, effe skuins kiaathout balke, skep die indruk dat dit later aangebou is by die voorste deel wat wel ‘n strooidak kon gehad het.

Die hoofgewel en hoof-ingang van hierdie pragtige gebou bevat ook subtiele verskille van wat in die “Hollandse” tydperk voor 1800 te wagte kon wees. Die huidige hoofdeur is nie meer een van die “staldeur” soort nie, maar is loodreg verdeel, met elke helfte wat drie panele het.

Die bolig bokant die hoofdeur is langwerpig, met ’n ovaal netwerk waarin ’n blomagtige motief is, terwyl die Hollandse boligte gewoonlik reguit glaspanele soos dié van ’n gewone venster gehad het.

Die bovermelde skuiframe weerskante is ook effe anders. Nie net kan die onderste helfte na bo skuif nie, maar die boonste helfte kan ook na onder skuif. Vensters uit die Hollandse tydperk daarenteen se boonste helfte was geanker op ’n dwarsbalk. Aldus dr. Fransen.

Vandag staan Welgemeend meestal leeg behalwe vir die vergaderings van die uitvoerende komitee van die vereniging, waarop kundiges soos prof Kay de Villiers dien, en tydens funksies soos troues wat daar gehou word – ek was juis op 9 November daar by my oud-kollega Jaco van der Merwe, bekende in argief- en geneaologie-kringe.

En wat ’n aangename ervaring was dit nie! Welgemeend kan werklik aanbeveel word, hetsy vir funksies of om die permanente “inwoners,” die Boerneef kunsversameling en boekery te besoek.

In die groot, koel vertrekke met hulle hoë plafonne hang werke van Irma Stern, Cecil Higgs, Alexis Preller, Magg Laubser, Gregoire Boonzaier en talle ander Suid-Afrikaanse meesters en mens wonder nogal wat hulle al alles aanskou het, hier waar soveel mense oor die eeue gewerk, gewoon en gekuier het, ook beroemdes soos Jan Smuts en ander staatsmanne van weleer.

Vir my is dit ’n voorreg om vanaf Welgemeendstraat  deur  die tuin met sy hoë bome en varings oor die groot stoep te stap en wanneer ek deur daardie groot deure gaan, my te verbeel ek betree ’n tydkapsule. En dan hoor ek stemme, dalk ook Onze Jan s’n, vanwaar hy uit sy graf roep om te hoor hoe dit met Welgemeend gaan.

Gelukkig is die antwoord steeds “Heel goed, dankie Oom Jan.”

Written by Francois Verster You are reading Welgemeend staan steeds sterk articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 81 guests online